VERMAAK NUUS - Die George Vrouelandbouvereniging (VLV) se 98ste verjaarsdagviering in die Emmaüs-saal was 'n vrolike kaas-en-wyn waar lede heerlik saam gekuier het.
Voorsitter Maretha van der Westhuysen het 'n interessante terugblik gegee op die geskiedenis van die organisasie, wat streng gesproke sy oorsprong te danke het aan die Women's Institute wat in 1897 in Kanada gestig is.
Die beweging het ontstaan nadat Adelaide Hoodless haar babaseun weens besmette melk verloor het. Sy het besef hoe belangrik kennis oor huishoudkunde, sanitasie, gesondheid en voeding vir vroue is en het begin om vroue te bemagtig deur praatjies en demonstrasies.
Soortgelyke organisasies het hierna wêreldwyd ontstaan en in 1927 het hulle in Genève saamgesnoer, waaruit die Wêreldbond van Plattelandse Vroue ontstaan het.
In Suid-Afrika het die VLV sy beslag gekry toe die landboudepartement ses vroue tussen 1910 en 1920 na Kanada gestuur het om huishoudkunde te studeer.
Een van hulle, mej. Ferguson, is later by Elsenburg-kollege aangestel en het plattelandse vroue begin oplei met lesings en demonstrasies. Sy het per trein van dorp tot dorp gereis, gewapen met 'n primusstofie en 'n houtkis vol kombuisgereedskap.
"Sy het oral huishoudkundetakke gestig en later is die VLV Kaapland (VLVK) hieruit gebore. Die Huis en Haard is die amptelike blad van die VLVK sedert 1952. Vandag is dit 'n volwaardige tydskrif," het Van der Westhuysen vertel.
Die VLVK-argief is sedert 1978 in die Jubileum-huis in Dorpstraat, Stellenbosch, gevestig (besoek vlv.co.za vir meer inligting).
BO: Marie Louw is al 61 jaar lid van die VLV en was voorheen president van die Tygerberg-sirkel. Sy steek 'n kers aan vir George-tak se 98ste. By haar is die voorsitter, Maretha van der Westhuysen. ONDER: Gereed vir 'n lekker kuier.
"Die George-tak het in 1928 nie-amptelik tot stand gekom en word beskou as die oudste tak in Kaapland, hoewel die VLVK eers in 1929 amptelik op die been gebring is toe notules begin neem is. Diepkloof het in dieselfde jaar as George ontstaan, maar daar is nêrens 'n presiese datum aangeteken vir enige van die twee takke nie, so ons en Diepkloof veg heeltyd vir die eerste plek," het sy gekorswel.
Sy het gesê hulle sien uit na hulle eeufees oor twee jaar.
Daar is 17 sirkels in Kaapland met 119 takke. Die SWD is die grootste sirkel met 15 takke.
Piet Greenwood, Sanette Louw en Isabelle Strauss (van links) het die viering bygewoon.
'n Kaas- en broodtafel.
Die verwelkomingstafel.
’n Prettige oomblik tydens die verrigtinge, van links: Linda Martin (’n gas van Sedgefield), Elsa Sellars, Hendrien Fourie en Marlene Stapelberg.
Ds. Gert Nothnagel van Herold en Maretha van der Westhuysen, voorsitter van die George VLV.
Freek Muller se musiek het tot die joligheid bygedra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’