GEORGE NUUS - Dirk Johannes Sauer (69) is Woensdag 20 Mei nadat hy in ’n motorongeluk op die Outeniquapas (N9/N12) betrokke was, oorlede. Sauer, alombekend as McGyver, is kort ná die ongeluk in die hospitaal oorlede.
Familielede het gedeel dat hy volgens omstanders net na die ongeluk uit die wrak geklim en gepraat het, en dat dit op daardie stadium nie gelyk het of hy ernstig beseer is nie.
Hy het egter tydens die ambulansrit tekens getoon dat iets fout is en is kort nadat hy die hospitaal aangekom het, dood verklaar. Sauer was op pad huis toe nadat hy onderdele in George gaan haal het.
Sauer was woonagtig in Noll’s Holte in die Langkloof, waar hy ’n besigheid as werktuigkundige en kleinskaalse boer gehad het. Sauer het sy bynaam, McGyver, gekry omdat sy hande vir niks verkeerd gestaan het nie en hy bekend daarvoor was dat hy enige trekker of implement kon regmaak. Sauer word oorleef deur sy vrou, Jeanette Sauer (66), sy dogter, Mariska Sauer Richards (47), en sy seun, Nicolaas Sauer (43). Jeanette vier haar 67ste verjaarsdag volgende Dinsdag, 2 Junie, ’n dag voor haar geliefde man se begrafnis.
Familie en werknemers bring hulde aan McGyver
Jeanette het die volgende oor haar man gedeel: “Woensdag 20 Mei, wat as ’n gewone dag begin het, het verander in ’n deurmaak-, wag-en-wag-dag en geëindig in ’n hartseer dag wat ons nooit sal vergeet nie. Johan ‘McGyver’ Sauer, die stil, rustige mens wat alombekend was, sal beslis in George, die Langkloof en omgewing gemis word. Baie dankie aan iedere en elk se belangstelling, boodskappies en liefde.”
Sy dogter, Mariska, wat tans in Nieu Seeland woonagtig is, het haar pa met ’n gebroke hart gegroet en gedeel dat hy, ten spyte van die afstand tussen hulle, altyd naby aan haar was. Sy het gesê sy sal sy rustige geaardheid en hardwerkende hande nooit vergeet nie en dat sy hom altyd in haar hart sal dra.
Isaac Witbooi, een van twee werknemers wat as werktuigkundiges vir McGyver gewerk het, het gedeel: “Geagte vriende en familie, hiermee deel ek my seer, dank en verlies aan almal. Alle dank aan ons Hemelse Vader vir die jare wat Hy my baas aan ons geleen het. Dank aan die Sauer familie wat my in tyd van nood kom huisves het met ’n werk, waarvoor ek baie dankbaar was. Met die jare het ek nie soos ’n werker gevoel nie, maar soos deel van die familie. Meneer was ’n baie goeie en geleerde persoon wat altyd die beste wou hê vir sy kliënte. Ek het baie geleer met die jare, waarop ek baie trots is. Soms was hy ’n bietjie streng, maar met rede, en dit sal gemis word. Aan sy familie, alle sterkte en voorspoed. Hy was immers julle steunpilaar, maar onthou hom in die vorm van sy mens-wees. Alle sterkte en voorspoed. God bless.”
Dominique Pieterse het die volgende gedeel: “Goeie dag aan almal. Hierdie is my kort opsomming van my werkgewer vir die afgelope 11 jaar. As ek begin, wil ek hom beskryf as ’n goeie mens. Hy was altyd baie hard op ons, maar ná die tyd het ’n mens altyd besef dat hy net die beste wou hê. Hy kon my altyd help met goed en hy het nooit geld terug verwag nie. Ek mis hom baie vandag; hoe hy altyd kon lag, die manier waarop hy grappies kon vertel. Ek mis hoe ons mekaar in die oggende kon groet. Ek mis sy stem. Die werkswinkel is leeg sonder hom en sal nooit weer dieselfde wees nie.
Ons kon altyd baie by hom leer. Hy was nie net ’n werkgewer nie, maar hy was meer soos ’n pa vir my. Hy het altyd baie vir my omgegee en ek sal dit wat hy my geleer het, nooit vergeet nie. Sag rus, my laanie.”
Die roudiens sal Woensdag 3 Junie om 11:00 by die NGK Herold-gemeente gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’